Gemeenskapsbetrokkenheid

Hart & Hande-projek

Nelson Mandela het die volgende gesê:

“As we let our light shine, we unconsciously give other people permission to do the same.”

By Hoërskool Lichtenburg skyn ons liggies helder in die hoop dat dit ʼn verskil in ander mense se lewens sal maak. Ons besef hoe belangrik dit is om terug te gee en daarom neem ons leerders deel aan verskeie liefdadigheidsinisiatiewe:

Theo le Roux-fondsinsamelingsprojek

Op 15 April 2014 het Hoërskool Lichtenburg ʼn fondsinsameling vir Theo le Roux, een van sy leerders, gehou. Theo is 14 jaar oud en is met Akute Miëloïede Leukemie gediagnoseer. Op dié dag het ons behoorlik die hare laat waai en sodoende R40 000 ingesamel. Die gemeenskap het ook betrokke geraak en verskeie besighede het ook aan die massa-haarskeer-en-kleur aksie deelgeneem en geld ten bate van die doel geskenk. Later is daar ook ʼn sokkie gehou om verdere fondse in te samel.

Op 21 April 2014 het daar selfs ʼn berig in die Beeld omtrent dié fondsinsamelingsprojek verskyn. In daardie stadium was daar reeds R95 959,37 ingesamel. Op 4 Junie 2014 het Kurt Darren ʼn vertoning ten bate van die fondsinsameling aangebied. Al die ondersteuning van die leerders, ouers en gemeenskap was oorweldigend. Skenkings kan steeds by die skool inbetaal word.

Vir enige navrae, skakel +27 18 632 6202.

J9 Ice Bucket Challenge

Potchefstroom Gimnasium en Hoërskool Sannieshof het ons onlangs uitgedaag om die J9 Ice Bucket Challenge te aanvaar. Op 18 September 2014 het ons die uitdaging die hoof gebied en R4 550 ingesamel. Dié bedrag sal eersdaags aan die J9 Foundation oorhandig word. Ons het weer op ons beurt ʼn uitdaging aan die volgende skole gerig: Hoërskool Klerksdorp en Hoërskool Voortrekker op Bethlehem.

Blikkieskosinsamelingsprojek

Hoërskool Lichtenburg het onlangs ʼn blikkieskosinsamelingsprojek van stapel gestuur. Alle leerders wat aan dié aksie deelgeneem het en blikkieskos geskenk het, kon vir ʼn dag lank met hul pantoffels by die skool pronk.