Ons Skool

Ons Skool

Hoërskool Lichtenburg

Ons Geskiedenis en Toekomsvisie

Hoërskool Lichtenburg, ’n plattelandse Afrikaans-medium skool gestig in 1921, het ’n roemryke geskiedenis in die Noordwes-provinsie. Met sy leuse “Daar's ’n stryd te stry, daar's werk,” beklemtoon die skool Christelike waardes, harde werk en deursettingsvermoë as kernbeginsels. Hierdie waardes vorm die fondasie van ’n skoolgemeenskap waar elke individu iets beteken, en waar duisende leerders trots ‘n suksesvolle toekoms bou.

Reeds sedert 1916, is hoërskoolleerlinge in die plaaslike laerskool geakkommodeer, met die eerste matrikulante wat in 1918 gradueer. Die Aanhou-Wen seunskoshuis is in 1910 in gebruik geneem terwyl Hoërskool Lichtenburg amptelik in Januarie 1921in die lewe geroep is. Om die groeiende getal leerders te huisves, is die Justitia meisieskoshuis in 1922 gebou en Aanhou-Wen in 1929 aansienlik vergroot. Verskeie opgraderings aan die bestaande infrastruktuur, is deur die daaropvolgende jare gedoen, onder andere ‘n Olimpiese grootte swembad (1935), verskeie laboratoria en tegniese sentra (1936 en 1945), twee skoolsale (1941 en 2010), sportvelde (1972) en ‘n wêreldklas, FIH-geakkrediteerde Astro hokkiebaan in 2025.
Sedert sy beskeie begin, het Hoërskool Lichtenburg hom onderskei as die bakermat van elite plattelandse skole in Suid Afrika. Oor dekades en tydsones heen, getuig duisende oud-Liggies as gerekende en suksesvolle wêreldburgers van die besonderse vermoeë van die skool om kaalvoetkinders uit ons afgeleë en stowwerige wêreld te omvorm na iets besonders; taai individue met karakter en deursettingsvermoë.

Die skool se besondere sukses lê in die suksesvolle bestuur van ‘n leerderkorps wat die ryke diversiteit van ons landelike voedingsarea weerspieël. Ons identifiseer nie noodwendig as ‘n rugby-, hokkie-, netbal-, krieket-, kultuur- of akademiese skool nie, maar bied die geleentheid vir elke leerder om deel te wees van uitnemendheid in enige van hierdie areas, wetend dat ‘n gebalanseerde, maar hardwerkende individu die vele uitdagings in ons huidige samelewing met gemak kan trotseer.

Ons unieke uitdagings vereis samewerking, vasberadenheid en innovasie van personeel, leerders en ouers om ons kompeterend en seëvierend te hou in ‘n meedoënlose skoolomgewing; kwaliteite wat vasgelê word in die karakter van elke Liggie wat die gange van hierdie roemryke instelling betree.
Missie

Ons streef daarna:
· Om die Christelike waardes en norme in oorleg met ons Grondwet te
bevorder.
· Om ʼn leeromgewing te skep waar ons onderwysers werkstevredenheid
sal ervaar deur hulle te ondersteun met die nodige tegnologiese
onderwyshulpbronne en professionele opleiding en ontwikkeling.
· Om ʼn leeromgewing te skep waar ons leerders akademiese, morele en
geestelike bewuswording kan ervaar wat hulle selfversekerd en
ontvanklik sal maak vir die omgewing, sodat hulle verantwoordelikheid
vir hulle optrede sal aanvaar.
· Om ʼn verskeidenheid van aktiwiteite, wyer as die kurrikulum, vir
persoonlike bemeestering te voorsien en om die waarde van spanwerk
te vestig.
· Om genoegsame finansiële hulpbronne met innoverende
besigheidsinisiatiewe te genereer en noodsaaklike infrastruktuur
beskikbaar kan wees sodat die skool, sover moontlik, onafhanklik kan
funksioneer

Visie

Ons sien ʼn toekoms: waar naskoolse opleidingsinrigtings en werkgewers
ons leerders as ʼn onmisbare skalel in hulle sukses beskou.

Waardes

Ons koester:
· Kwaliteit onderwys met hoë standaarde met die fokus op tegnologie
· ʼn Onderwysklimaat wat voortdurende verbetering nastreef
· ʼn Kollegiale omgewing vir professionele optrede
· ʼn Vennootskap met ons ouers en die NWDO
· ʼn Leeromgewing wat verdraagsaamheid en wedersydse respek
bevorder
· Geleenthede vir leierskap en kritiese denke
· Trots by ons leerders, onderwysers en gemeenskap
· ʼn Wenkultuur, gedryf deur prestasie met passie.

Belangrike datums

1918 - Daar was 4 matrikulante in ons eerste matriekklas.
1921 - Hoërskool Lichtenburg word as volwaardige.
1922 - Justitia-meisieskoshuis word gebou.
1922 - Die swembad word deur die leerders gebou.
1923 - Ons huidige skoolwapen word in gebruik geneem.
1930 - Aanhouwen-seunskoshuis word gebou.
1939 - Die skoollied word die eerste keer deur die leerders.
1945 - Die eerste leerlingraad word verkies.
1953 - Die eertse skoolkoerant word uitgegee.
1972 - Die nuwe sportterein word ontwikkel.
2010 - Die Leon Bantjessaal word gebou.
2016 - Die skool kry 'n nuwe gimnasium.
2021 - 100 jaar “and still going strong”
Kultuurskool van die jaar
2025 - Liggies Astro word geopen.

Skoollied

Daar’s ‘n skool hier in die Weste,
op die vlaktes wyd en kaal.
En met trots roep ons sy naam uit, 
Hoërskool,  Lichtenburg, Transvaal!

In die skool gee ons met erns, 
rekenskap van al ons krag, 
eerlik en opreg en ywerig, 
werk ons hier van dag tot dag.

Want ons lê die fondamente, 
van ‘n nasie trou en sterk!
Kom nou seuns en dogters almal saam!
Daar’s ‘n stryd te stry! Daar’s werk!

Skooldrag - Dogters

In die somer, dra swart skoolskoene met gespe of veters, kort blou kouse, en die voorgeskrewe skoolromp. In die winter, kies swart skoolskoene, lang donkerblou kouse, en óf die skoolromp óf langbroek, saam met 'n skoolserp, langmou-hemp met 'n das, en 'n baadjie.

Klik hier vir 'n volledige Uniform Riglyne

Somer
Skoene – Swart skoolskoene met gespe en/of veters
Kouse – Kort, blou skoolkouse
Romp – Voorgeskrewe skoolromp, nie korter as 4 vingers bokant die knie nie (of 10cm van die grond af as dogter op haar knieë staan)
Hemp – Voorgeskrewe blou skoolhemp moet ten alle tye in die romp ingesteek wees
Trui – Voorgeskrewe blou moulose oortrektrui (indien nodig)
Skoolbaadjie – Skoolbaadjie met saalopeninge op Maandae, asook tydens amptelike skoolgeleenthede

Winter
Skoene – Swart skoolskoene met gespe en/of veters
Kouse – Lang, donkerblou sykouse
Romp – Blou skoolromp met bogenoemde sykouse, nie korter as 4 vingers bokant die knie nie (of 10cm van die grond af as dogter op haar knieë staan)
Broek – Voorgeskrewe langbroek mag gedra word in die plek van die skoolromp en sykouse
Serp – Voorgeskrewe skoolserp
Trui – Skooltrui (langmou of mouloos) mag slegs saam met die skoolbaadjie gedra word
Hemp – Voorgeskrewe langmouhemp met das is verpligtend
Skoolbaadjie – Voorgeskrewe blou baadjie is verpligtend asook die das. Skoolbaadjie met saalopeninge op Maandae, asook tydens amptelike skoolgeleenthede

Skooldrag - Seuns

In die somer, dra swart skoolskoene met gespe of veters, kort grys kouse, en die voorgeskrewe grys kortbroek of langbroek. In die winter, kies swart skoolskoene, lang grys kouse, grys langbroek, 'n skoolserp, langmou-hemp met 'n das, en 'n baadjie.

Klik hier vir 'n volledige Uniform Riglyne

Somer
Skoene – Swart/Bruin toerygskoolskoene (Grasshoppers); skoene nie gepunt nie; geen blinkleer-en hardesoolskoene nie
Kouse – Grys, lang skoolkouse-opgetrek tot by kuite
Broek – Kort; grys skoobroek of grys langbroek; ‘n skooldas is verpligtend
Hemp – Voorgeskrewe blou skoolhemp moet ten alle tye in die broek ingesteek wees
Trui – Voorgeskrewe blou moulose oortrektrui (indien nodig)
Skoolbaadjie – Skoolbaadjie met saalopeninge op Maandae, asook tydens amptelike skoolgeleenthede
Gordel – Bypassende swart lyfgordel moet te alle tye saam met die langbroek gedra word. Geen uitermatige gespes mag gedra word nie

Winter
Skoene – Swart/Bruin toerygskoolskoene (Grasshoppers); skoene nie gepunt nie; geen blinkleer-en hardesoolskoene nie
Kouse – Grys, lang skoolkouse-opgetrek tot by kuite
Broek – Grys skoollangbroek
Serp – Voorgeskrewe skoolserp
Trui – Skooltrui (langmou of mouloos) mag slegs gedra word indien die skoolbaadjie gedra word
Hemp – Voorgeskrewe langmouhemp met das is verpligtend
Skoolbaadjie – Voorgeskrewe blou baadjie is verpligtend asook die das. Skoolbaadjie met saalopeninge op Maandae, asook tydens amptelike skoolgeleenthede
Gordel – Bypassende swart lyfgordel moet ten alle tye saam met die langbroek gedra word. Geen uitermatige gespes mag gedra word nie